Ghallo
Grof. Goeie dag. Graauuw.
Ja. Dis ‘n gawe plan. Die koue is bietjie verby. Tannie tombi se vir my: “Kom hierso my Mapstieksie, ek en jy is mos baie lief vir mekaar. Nou gaan ons babatjies kry . ” Sy beweer dis alles my skuld. Ek is die enigste mannetjie hond hier op die plaas en ek slaap elke aand langs haar. Behalwe die twee weke toe sy glad nie geslaap het nie, maar net rondgeloop het. Maar dit was net twee weke. daar kon nou niks ernstigs gebeur het volgens haar. Ek weet nie want ek was nie saam nie. Vir die res van die tyd het ek geslaap en weet van niks nie maar sy reken sy weet van alles en ek moet nou onderhoud vir die kleintjies betaal en so meer. Nou pas ek haar op dat sy nie verder rondloop nie. En die lot kleintjies ook. Tannie Tombie reken daar is twintig kleintjies daar binnekant. Sy weet want sy voel hoe trap die goed se pote. Sy tel die pote as dit trap en dan deel sy dit deur vier. Dan kom sy by twintig uit. Sy sal weet, ek het nie somme geleer op skool nie. Die skool is ‘n baie gawe plek. Die kinders leer daar spel en die honde leer daar tel. Ek was nog nie daar nie maar tannie Tombie reken sy het geleer tel.
Maar een ding is seker, dis makliker om dooie goeters te tel as lewendiges. Sy raak maklik deurmekaar as die goed nie stil lê nie.
Jong en die baas het nou weer ‘n nuwe ding uitgehaal. Jy weet hy het vier oë. As hy werk, dan sit hy twee oë af en as hy ry dan sit hy hulle weer op. Dis woes hoor. Maar nou het ek agtergekom hy het nog ‘n spaar stel tande ook! Dit was vir jou ‘n snaakse ding. Dis mos nou daarbuite nie meer so koud nie, maar die stowwerigheid en so meer laat die baas so snaaks blaas. Dit gaan so: “HAGAGATIIIIOEE” Dan blaas hy dat sy ogies eintlik so klein word. Eintlik maak hy hulle toe, maar dit was nie ‘n goeie plan nie. Want die volgende oomblik toe hy nie kyk nie, toe vlieg sy tande uit sy mond en val op die grond rond. Wat hulle daar wou byt weet ek nie want die gras is kort. (Die foto hier-onder is dalk nie vir sensitiewe lesers nie. Hul moet maar hul oë toemaak as hulle daar kom.)
Toe besluit ek dat ek die goed moet ernstig bestudeer. Dit kan gevaarlike goed wees. Sê nou net dit byt my in my neus? Maar nee, dit lê redelik stil. Toe dink ek, miskien kan ek die goed ook in my mond druk, dan lyk ek dalk soos die baas met my mond. Maar nee hoor, dit wil nie werk nie. Iewers het die baas ‘n woeste groot bek want die tande pas nie halfpad in my mond nie. Nou moet jy sien. Die baas storm hier op sy tande af met daai gesig van hom en die pap bek en rek sy oe baie groot vir my. Maar nou praat hy baie snaaks. “Mapfieks” sê hy, “Mapfieks lof bafo. Gaan beg. Dif my bande die.” Nou dit het ek wel agtergekom, die goed ruik soos die baas se asem, maar hy hoef nou nie so daaroor te kere te gaan nie. Hier gryp hy die goed voor my neus weg en hardloop binnekant in die huis. Eks agter hom aan om te sien wat nou gaan gebeur. daar gaan hy badkamer toe en gryp die tandeborsel. En hy skrop en borsel die tande dat die skuim so staan. Dis wel baie maklik sulke los tande. Jy kan hulle uit jou mond haal om te borsel. Baie maklik. dan kan jy hulle van voor en agter bykom. Die baas is klaar. Hy gee my nog een kyk, rek daai pap bek van hom oop en gloeps, daar is die tande weer in sy mond. “Jy sien mapstieks, ek kan jou byt op ‘n afstand. Pas maar op.” Ja seker sal ek oppas. Die baas se tande lyk gevaarliker op die grond as in sy mond maar hy praat nie meer so dapper as sy tande uit is nie. Snaakse baas hierdie hoor.
Daar by miesies Lynn is nog verweg familie van ons. Ek meen, sy is op die baas se plaas gebore lank voordat ek daar was, maar dit moet familie wees.
Wat presies daar gebeur het weet ek nie, maar die ouma Suzi is nou bang dat die groot doberman broer wat ook daar woon dalk haar lêplek wil steel, en gaan sy te kere daaroor. Mens sal sweer sy wil de doberman opeet.
Vandag het die miesies vir die Ma na die dokter gevat. “Dis nou reg of weg” sê sy glo vir die dokter. Die dokter maak sy somme en kom agter dat hy meer verdien met regmaak as met wegmaak, so hy maak die Ma reg. Ek het altyd al geweet die Ma is verkeerd, maar ek hoop dis nou beter van sy reggemaak is. Wat presies alles met die Ma verkeerd was kan ek nou nie hier sê nie, maar onder andere het sy my baiekeer heel onnodig pak gegee. Ek hoop dit sal nou eindig. “Pas maar op” sê sy vir my “Jy is volgende” Wat dit beteken weet ek nie. Eks gn verkeerd nie. Nog altyd reg gewees.
Die lewe is tog lekker. MAPSTIEKS!